Skip to content Skip to left sidebar Skip to right sidebar Skip to footer

Leesondersteuning en kultuuraktiwiteite beklemtoon plaaslike geletterdheidsfees

’n Groep kinders en jongmense is onlangs opgelei as deel van die leesondersteuningsprogram waarin George Munisipaliteit en die plaaslike ATKV-tak, Sommer-Net-Ons, vennote is. Die opleiding het munisipale EPWP-jeugwerkers en skoolassistente van plaaslike laerskole en vroeë kinderontwikkelingsentrums (VKOs) ingesluit.

Die program, wat deur Sommer-Net-Ons aangebied word en ondersteun word deur die Nasionale ATKV, Vriende van Afrikaans, George Munisipaliteit en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, help kinders wat sukkel om te lees. Opgeleide assistente voorsien hierdie leerders van die nodige vaardighede en volgehoue ondersteuning. Verskeie VKOs in George maak ook van die program gebruik, wat fokus op Afrikaanse skole.
Uitvoerende Adjunkburgemeester van George, Rdl Browen Johnson, het die belangrikheid van moedertaalonderrig beklemtoon en die uniekheid van Afrikaans uitgelig. Rdl Melvin Roelfse, portefeuljeraadslid vir Gemeenskapsontwikkeling, Biblioteekdienste en Sport, het die kinders en jongmense bemoedig en herinner dat “lees groot deure oopmaak.” George Munisipaliteit se Jeugontwikkelingsafdeling en Biblioteekdienste bly aktief betrokke by die program.

In samewerking met Vriende van Afrikaans is ’n opleidingsessie vir leesondersteuners in die Munisipaliteit se konferensiesaal aangebied. Twintig fasiliteerders het deelgeneem, waarvan agt as leesondersteuners opgelei is. Vyftien skoolassistente het as waarnemers deelgeneem.
Die program word ondersteun deur George Munisipaliteit as vennoot en borg van die 12-maande program. Opleiding is professioneel deur Vriende van Afrikaans aangebied.

Die leesinisiatief is aangevul deur ’n reeks kultuur- en gemeenskapsaktiwiteite in George. Onder leiding van René Scribante en in vennootskap met Sommer-Net-Ons is ’n kultuuraand by Attic Artelier aangebied, waar sowat 70 gaste ’n aand van musiek, poësie, kuns en kos geniet het. Voor en tydens die fees is radiogesprekke en onderhoude deur plaaslike media soos Eden FM en Heartbeat gevoer, met gesprekke oor Afrikaans, geletterdheid en kulturele identiteit.
’n Inspirerende skoolbesoek is by New Dawn Park Primêre Skool afgelê, waar leerders aangemoedig is om hulle moedertaal met trots te omarm. By The Attic Artelier het ’n ommietafelgesprek plaasgevind waarin gaste soos Petronel Baard, Jason “Hakkiesdraad” Hartman en Michael Lindt insigte gedeel het oor identiteit, taal en kreatiwiteit. Die hoogtepunt van die fees, Leesmarathon 2025, het meer as 300 leerders van 13 skole ingesluit, saam met sowat 50 ouers wat ouerleiding ontvang het van ’n maatskaplike werker van die WKOD.

Fotos:


Rdl Browen Johnson, Uitvoerende Adjunkburgemeester van George en Rdl Melvin Roelfse, portefeuljeraadslid vir Gemeenskapsontwikkeling, Biblioteekdienste en Sport by die leesondersteuningsprogram.

 Jonel Kerspuy, Koordineerder van Jeugontwikkeling by George Munisipaliteit spreek die belanghebbendes by die leesondersteuningsprogram toe.