Minister MacKenzie besoek Uniondale Biblioteek wat vanjaar hul 130ste bestaansjaar vier
In the foto hierbo, by die vieringe is Minister Ricardo MacKenzie met van links Jesnick Pieterse van EPWP, Precious Spengana, Senior biblioteekassistent, Andri Avontuur, Biblioteekassistent.
Die Uniondale Gemeenskapsbiblioteek vier vanjaar ’n merkwaardige mylpaal van 130 jaar as ’n sentrum van kennis, leer en gemeenskapsontwikkeling in die dorp en Minister Ricardo MacKenzie, Provinsiale Minister an Kultuursake en Sport het ‘n hoflikheidsbesoek aan die biblioteek afgelê.
Die viering is onlangs by die biblioteek gehou waar die Minister die geleentheid bygewoon het en die belangrike rol van biblioteke in gemeenskappe beklemtoon het.
MacKenzie het gesê Uniondale Biblioteek is ’n baie belangrike gemeenskapsbate vir die mense van Uniondale.
Hy het verduidelik dat biblioteke steeds een van die belangrikste hulpmiddels is om gemeenskappe te help ontwikkel en geleenthede te skep, veral in landelike gebiede. Volgens hom help biblioteke om kennis te versprei en mense toegang tot inligting en leergeleenthede te gee.
“Die Uniondale Biblioteek, wat reeds 130 jaar oud is, bly ’n bron van trots vir die gemeenskap. Die biblioteek beskik ook oor spesiale toerusting wat persone met siggestremdhede help om toegang tot boeke en leesmateriaal te kry. Ongeveer 15 siggestremde lede vorm deel van die biblioteek se klubgeskiedenis – ’n bewys dat die biblioteek ’n inklusiewe ruimte vir almal is, het MacKenzie beklemtoon.
MacKenzie het verder beklemtoon dat die bevordering van ’n lees-kultuur steeds ’n prioriteit is. Inwoners neem weekliks boeke uit en bring dit terug, wat wys dat lees steeds ’n belangrike deel van die gemeenskap se lewe is.
Die Wes-Kaapse regering ondersteun meer as 370 biblioteke regoor die provinsie in samewerking met munisipaliteite. Hierdie biblioteke speel ’n sleutelrol in die uitbreiding van kennis en die skep van geleenthede vir gemeenskappe.
Inwoners word aangemoedig om hul plaaslike biblioteke te besoek, ’n boek uit te neem en die waardevolle hulpbronne wat beskikbaar is, te benut.
Fotos:

Minister Ricardo MacKenzie gesels met een van die Uniondale biblioteek se lede.

Minister MacKenzie by die Uniondale Biblioteek.

Die Minister kyk na ‘n boek wat in en uitgeteken is.