Skip to content Skip to left sidebar Skip to right sidebar Skip to footer

Burgemeester’s Brief – 18 Mei 2021

Ek het op Maandag ‘n onderhoud met ‘n joernalis van ‘n rekenmeesters-webblad gehad oor die verhouding tussen rekenmeesters en munisipaliteite en hoe rekenmeesters vir besighede kan help om die ekonomie uit te bou. Die joernalis het toe op ‘n stadium vir my gevra hoe die regmaak van slaggate in George hanteer word.

Ek het toe verduidelik hoe ons Munisipale-App gebruik kan word om klagtes aan te meld tesame met ‘n foto wat aangeheg kan word. Hierdeur kry die klagte dan die nodige aandag. Vir mense buite George is hierdie aksies heel vreemd. Ek vertel toe verder dat elke klagte ‘n verwysingsnommer toegeken word. Elke Vrydag is daar dan ‘n vergadering van die Dienslewerings Moniteringskomitee waar klagtes en hul afhandeling bespreek word. By die vergadering word die meer moeilike probleme bespreek om oplossings te vind.

Hierdie vergadering hanteer enigiets van oorgroeide bosse op erwe of rommel by bushaltes tot straatligte wat buite werking is. Die komitee wat hierdie klagtes hanteer vervul gevolglik ‘n belangrike rol om stelselmagtig toe te sien dat verbeteringe in dienslewering aangebring.

Die voordeel van die Munisipale-App is dat elke klagte wat aangemeld word ‘n verwysingsnommer toegeken word wat dan verseker dat die vordering op die werk opgevolg kan word. Rekord word ook gehou van soortgelyke klagtes wat gedurig plaasvind en gevolglik is dit moontlik om te verdere klagtes aan te spreek.

Die moniteringskomitee is dus deel van die ketting wat met die aanmelding van ‘n klagte op die Munisipale-App begin, waarna die betrokke Direktoraat  die klagte hanteer met die moniteringskomitee wat elke week ‘n oorsigrol speel oor die vordering.

Die Gemeenskaps-Direktoraat is tans baie bedrywig om ons dorp skoon te maak met ongeveer 180 tydelike werkers wat aangestel is. Onwettige stortings vind ook in baie wyke plaas wat ook gedurig aandag kry.

In sommige wyke word voormalige stortingsgronde in groente- of blommetuine omskep deur die gemeenskap wat daar woon. Dit is ‘n aanduiding dat gemeenskappe ‘n verskil kan maak om hul wyke te verbeter.

Ons het onlangs die geleentheid gehad om in Maraiskamp die sosialeverpligtings-projek van Kathaka RAW te gaan besigtig. Hierdie is ‘n projek wat ‘n privaat-maatskappy in samewerking met gemeenskaplede geloods het om te help om herwinbare rommel op te tel en daarna in “skips” te plaas. Die herwinbare goedere word verkoop met die vergoeding wat terugvloei na gemeenskaplede. Die maatskappy se aktiewe betrokkenheid word waardeer en is van groot waarde vir die Munisipaliteit.

Ander maatskappye kan beslis ook ‘n rol speel om toe te sien dat gemeenskappe eienaarskap neem van hul eie gebiede. Vennootskappe tussen die Munisipaliteit en besighede kan moontlik bydra tot die toekenning van speelgrond-toerusting aan gemeenskappe wat self verantwoordelikheid neem om hulle gebiede skoon te hou.