George Munisipaliteit vier NASIONALE KINDERDAG – versterking van gesinseenhede
Burgemeester Jackie von Brandis hierbo, Rdl Jean Safers, onderwysers, leerders van Kretzenshoop Primêre Skool by die viering van die Nasionale Kinderdag.
Op 1 November 2025 het George Munisipaliteit, in samewerking met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Departement van Onderwys, Kidstop, SUFF en SAPD, BADISA ’n suksesvolle geleentheid by Kretzenshoop Primêre Skool aangebied om Nasionale Kinderdag te vier. Die geleentheid het families bymekaar gebring vir ’n vreugdevolle viering met die fokus op speel en die belangrike band tussen ouer en kind.
George se Uitvoerende Burgemeester, Rdd Jackie von Brandis, het die geleentheid bygewoon en dit beskryf as “’n ware bemoediging vir die hart.” Sy het John F. Kennedy aangehaal met die woorde: “Kinders is die wêreld se waardevolste hulpbron en die beste hoop vir die toekoms.” Die burgemeester het beklemtoon dat dit waar is, maar het die bywoners herinner dat “ons toekoms ook vandag is — ons moet vandag vir ons kinders sorg, hulle beskerm en saam met hulle die lewe geniet.” Sy het gesinne aangemoedig om, ondanks die gejaag van die lewe, tyd te maak om stil te staan, met mekaar te kommunikeer en saam die lewe te vier.
“Ons vier vandag samehorigheid,” het sy gesê. “Baie dankie aan al die belanghebbendes en aan al die ouers en kinders wat opgedaag het, en die reënbytjie trotseer het.”
Kinders en ouers het in sportiewe drag deelgeneem aan ’n verskeidenheid inheemse speletjies, insluitende lepel- en eierresies, kruiwaresies, musikale stoele en meer. Al was die weer nie optimaal nie, kon niks die borrelende gees van die deelnemers demp nie. Hierdie aktiwiteite was ontwerp om die band tussen ouers en kinders te versterk en sodoende sterker gesinseenhede te bevorder – wat noodsaaklik is vir die bou van lewendige en sterk gemeenskappe.
George brandweer het ook ‘n demonstrasie by die geleentheid kom aanbied en die bywoners ingelig oor hoe om moontlike brande te hanteer.
Volgens Asavela Mandongana, Koördineerder: Gemeenskapsprojekte by George Munisipaliteit, was die speletjies spesifiek daarop gemik om ouers en kinders deur gesamentlike speletjies nader aan mekaar te bring. Die geleentheid is op die sportveld van Kretzenshoop Primêre Skool aangebied, waar al die deelnemers ook middagete en geskenkpakkies ontvang het om huis toe te neem. Benewens versnaperinge in die pakkies, het ouers nuttige ouerskapwenke ontvang.
Foto’s:

Burgemeester Jackie von Brandis, Rdl Jean Safers en ander belanghebbendes kyk toe terwyl Aldrin Arendse, die programaanbieder van die dag aan die woord is. Aldrin (13) is ‘n graad 7 leerder by Kretzenshoop Primêre Skool.

Lede van George Brandweer, Wilton Oktober en Garth Claassen demonstreer hoe om ‘n brand met ‘n brandblusser te blus by die geleentheid.