Skip to content Skip to left sidebar Skip to right sidebar Skip to footer

Euwel van verstopte stormwaterdreine en kabeldiefstal lei tot groot skade en probleme met dienslewering

Mediavrystelling: Euwel van verstopte stormwaterdreine en kabeldiefstal lei tot groot skade en probleme met dienslewering

Uitgereik deur George Munisipaliteit 15 Desember 2022 vir onmiddellike vrystelling

 

Die aandag is vandeesweek weer opnuut op die euwel van verstopte stormwaterdreine en kabeldiefstal geplaas toe strate in Rosemoor, George oorstroom het en bykans onbegaanbaar was, weens ‘n drein in O’Connellstraat wat met ‘n bondel gesteelde elektriese kabels en gemors verstop was.

Amptenare van ons Siviele Ingenieursdienste moes spook om die kabels uit te kry wat aan ander vullis, soos volgestopte plastieksakke, koeldrankbottels en nog vele gemors vasgedraai was.

Ons Elektrotegniese Dienste Direktoraat het bevestig dat dit kragkabels is, wat reeds van koper gestroop is.

Volgens Lionel Daniels, adjunkdirekteur van Siviele Ingenieursdienste, kry hul afdeling gereeld klagte oor ons stormwaterstelsel wat nie behoorlik werk nie, maar sê hy hierdie is die tipiese voorvalle waarmee sy spanne bykans elke dag moet sukkel en wat dienslewering kelder.

Daniels sê in hierdie spesifieke geval het het talle strate oorspoel met die swaar reens weens die een verstopte drein.

Wonder jy ooit hoekom sekere gebiede meer oorstromings en rioolstortings as ander het? In meeste gevalle kan die probleem direk verbind word met wat in die drein afgaan.

Verkeerde goed wat toilette afgespoel of wat in stormwaterafvoerpype gegooi word, is een van die grootste oorsake van riool wat oorloop en verstopte dreine en oorstromings. Probleemitems sluit in, kosverpakking, koeldrankbottels en tot dooie diere en meubels, sanitêre produkte, babadoeke wat in die mangate en afvoerpype gegooi word.

 

Om dreinpype skoon te maak is duur en kos die munisipaliteit geld en mannekrag wat vir iets anders gebruik kon word. Oorstromings weens verstopte dreine kan huise, motors en eiendom beskadig en kan selfs die oorsaak van verdrinkings wees.

Ons vra die publiek om asseblief die area voor stormwatergate in die pad skoon te hou van blare en gemors. Moenie rommel strooi nie, hou dit in a swartsak tot vullisopteldag. Plaas babadoeke, koshouers, sanitêre produkte in ‘n plastiek inkopiesak, bind dit toe en plaas dit in ‘n swart sak. Moenie die toilet as ‘n vullisblik gebruik nie. Gooi bourommel, voertuigbande en ander groot goed by die munisipale stortingsterrein of binne-in ‘n skepbak in u gebied.

Verjaag enigiemand wat vir kwaadgeld rondloop en probeer om dreindeksels oop te maak of rapporteer dit.

Rapporteer onwettige stortings by Omgewingsdienste: 044 802 290

Verstopte riool en stormwaterpype by Siviele Ingenieursdienste: 044 801 9262/66

Dooie diere vir verwydering by Tuinroete DBV: 044 878 1990

Mense wat groot items in dreinpype gooi by Wetstoepassing: 044 801 6350

Dooie diere op die N2 vir verwydering by Sanral: 082 553 4878

Of na-ure by George Munisipaliteit nooddienste 044 801 6300.

 

Vandalisme – groot oorsaak van kragonderbrekings

Vandalisme van munisipale eiendom kos die George Munisipaliteit miljoene rande per jaar. Kabeldiefstal lei dikwels tot kragonderbrekings, wat rioolpompstasies en huishoudings beïnvloed, en dus ‘n groot invloed het op dienslewering. Gebiede waar sub-stasies, mini-substasies, straatligte en rioolpompstasies geteiken is, sluit in die industriële gebiede Tamsui en Pacaltsdorp, Rosedale, Lawaaikamp, Parkdene, Conville, Borcherds, Rosemoor, Blanco, Gwaing en Thembalethu.

George Munisipaliteit het nog steeds die probleem van kriminele wat elektriese strukture klim, en hulself en ander se lewens in gevaar plaas deur hierdie kriminele en nalatige dade. George Munisipaliteit word gedwing om groot bedrae van die belastingbetalers se geld te bestee op die herstel van elektriese (en ander) netwerke wat gevandaliseer word. Hierdie bates behoort ook aan die belastingbetalers en die munisipaliteit bestuur hierdie bates wat deur die publiek betaal word. George Munisipaliteit versoek dus alle inwoners om ons te help om ons bates te beskerm. Meld sulke oortredings soos kabeldiefstal aan by George Munisipaliteit of by u naaste polisiekantoor.

Rapporteer by 0860 044 044 of 044 801 6300 na-ure.

 Foto-onderskrif: Twee George munisipale amptenare spook om ‘n groot bondel elektriese kabels wat aan ander gemors soos volgestopte vullissakke en koeldrankbottels verstrengel geraak het, uit ‘n stormwaterdrein te verwyder. O’Connellstraat en omliggende strate in Rosemoor het vandeesweek met die swaar reens oorstroom  en was bykans onbegaanbaar weens die verstopte drein.