Skip to content Skip to left sidebar Skip to right sidebar Skip to footer

Uniondale Liggiefees ruk vere reg vir Saterdagaand

Inwoners en besoekers van Uniondale word uitgenooi om hierdie Saterdag die Uniondale Liggiefees by te woon. Die fees beloof uitstekende vermaak deur plaaslike kunstenaars, insluitend sangers, plaaslike platejoggies en selfs rieldansers.

Volgens Marildien Olivier, organiseerder van die fees en amptenaar van die George Munisipaliteit, sal daar iets wees om elkeen te vermaak.

Inwoners word aangemoedig om hul eie versnapperings en kampeerstoele saam te bring om die gesellige atmosfeer te geniet, het Olivier bygevoeg.

Die uitvoerende burgemeester van George, raadsdame Jackie von Brandis, sal die liggies die aand amptelik aanskakel en ook ‘n toespraak aan die skare lewer.

Die fees vind plaas op die oop terrein in Paul Venter Rylaan en duur vanaf 19:00 tot 23:00.
Van die gehoor se gunstelinge is die plaaslike platejoggies, Charliam Maakso, Jason Mars, en DJ Gumz.

Olivier het gesê hulle is ook opgewonde oor Deshaun November, wat voorheen opgetree het op Koortjies, ‘n gospelprogram op televisie waarvan Jonathan Rubain die aanbieder was.
Verder sal ons plaaslike rieldansers, altyd ‘n gunsteling onder die gehoor, ook optree.