Waboomskraal Thusong-sentrum bring noodsaaklike dienste nader aan die Noll Halte-gemeenskap
Foto hierbo is verteenwoordigers van die verskeie departemente by die uitreik te Noll.
Die Waboomskraal Thusong-sentrum het verlede week ’n suksesvolle gemeenskapsuitreikprogram by die Du Toit Meulrivier-sportterrein op die plaas in die Noll Halte-omgewing aangebied. Die program het verskeie staatsdepartemente en ander rolspelers byeengebring om noodsaaklike dienste, ondersteuning en inligting meer toeganklik vir landelike gemeenskappe te maak.
Die uitreikprogram was daarop gemik om inwoners se toegang tot staatsdienste te verbeter, bewustheid van beskikbare programme te verhoog en die gemeenskap oor die dienste en ondersteuning wat deur verskillende departemente en organisasies gebied word, in te lig.
Gemeenskapslede van omliggende plase in die Noll Halte-omgewing het die geleentheid gehad om direk met verteenwoordigers van die onderskeie departemente en organisasies in gesprek te tree en van hul dienste gebruik te maak. Die Departement van Binnelandse Sake se mobiele diensvoertuig was onder meer op die terrein, waar inwoners tougestaan het om van die beskikbare dienste gebruik te maak.
Die samewerking tussen die verskillende rolspelers het ’n belangrike bydrae tot die sukses van die inisiatief gelewer en die waarde van vennootskappe in die aanspreek van die behoeftes en uitdagings van landelike gemeenskappe beklemtoon.
Die Waboomskraal Thusong-sentrum bedank al die departemente en organisasies wat aan die uitreikprogram deelgeneem het. ’n Spesiale woord van dank gaan ook aan mnr. Gert Joubert, die eienaar van die perseel, wat die sportterrein vir hierdie belangrike gemeenskapsinisiatief beskikbaar gestel het.
Die sentrum bly verbind tot sy doel om staatsdienste nader aan mense te bring, vennootskappe te versterk en gemeenskapsontwikkeling te bevorder om sodoende die lewensgehalte van inwoners in die Waboomskraal-omgewing te verbeter.
Rolspelers wat deelgeneem het is Departement van Binnelandse Sake, Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA), Departement van Gesondheid (Uniondale), ABSA Bank (George), Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD Herold), George Munisipaliteit se departemente:Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP) asook Menslike Nedersettings en the LGBTQIA+ en MIV/Vigs subdepartement.
Fotos:

Inwoners staan om gehelp te word by die Departement van Binnelandse Sake mobiele diensvoertuig.

ABSA-verteenwoordigers, Beryl Williams, Claudia Rooi en Dinovan (korrekte spelling) Windwaai help lede van die publiek.
