Skip to content Skip to left sidebar Skip to right sidebar Skip to footer

Outeniqua Chair Challenge-sterre van Ghana, Zim, Botswana en Namibië trek saam in George

Caption: Raphael Botsyo Nkegbe, from Ghana

George, Tuinroete (Maart 2025) – Berigte van hoe vrygewige skenkers ingespring het om hierdie jaar se Outeniqua Chair Challenge (OCC) op dreef te hou, is reeds wyd verspreid en gelees. Hoofborge soos Garden Route Mall en die Wes-Kaapse Regering is geloof vir hul ondersteuning om te verseker dat hierdie unieke George-geleentheid op 15 Maart 2025 vir die 21ste keer sal plaasvind.

Met net twee weke oor voor wedren-dag, is dit nou tyd om uit te sien na die aankoms van dosyne ernstige atlete en ewe entoesiastiese pretrenners. Oor die jare het die OCC nog altyd gespog met deelname van onder meer Paralimpiese medaljewenners Ernst van Dyk en Pieter du Preez, asook Stuart McCreadie en plaaslike held Shaun Butler.

Suid-Afrikaanse sportliefhebbers sal vanjaar weer van die land se grootste para-sterre op die wegspringlyn herken. Maar net so beduidend is die feit dat die OCC beroemde handfietsryers en rolstoelrenkampioene van ander dele van die vasteland lok – en 2025 is geen uitsondering nie. Hierdie jaar sluit dit atlete in van Ghana, Zimbabwe, Botswana en Namibië.

Raphael Botsyo Nkegbe het reeds vir Ghana in drie opeenvolgende Paralimpiese Spele verteenwoordig: Athene 2004, Beijing 2008 en Londen 2012. Dié nederige voorstaander van gestremde sport het al sewe keer aan die OCC-marathon deelgeneem, en 2025 sal dus sy agtste keer wees.

“As ‘n rolstoelrenner probeer ek om in soveel wedrenne as moontlik deel te neem, en die OCC is al jare lank een van my kalenderhoogtepunte. In 2015 het ek silwer gewen by my eerste Outeniqua Chair Challenge en toe later goud,” sê Raphael.

“Ek sien uit om weer aan die 42km-marathon deel te neem. Deo volente sal ons veilig in Suid-Afrika aankom twee dae voor die wedren, sodat ons kan aanpas by die weersomstandighede en verseker ons rystoele is gereed vir plaaslike toestande.”

Raphael is die stigter van Gogetdem Wheelchair Racing in Accra en gebruik sy klub om jong para-atlete te help ontwikkel. Vanjaar sal hy twee spanmaats van Span Ghana saambring.

“Dit is ‘n wonderlike geleentheid wat ons van die begin af aangegryp het, aangehelp deur die vriendelike mense van George – of dit nou akkommodasieverskaffers, vrywilligers of geleentheidsorganiseerders is. Ons is mal daaroor om elke jaar terug te kom om ons vlag daar te wapper, eenheid te bevorder, nuwe vriende te maak en met ou maats te skakel. Ek nooi almal in George om ons te kom aanmoedig!”

Jessie Mouton woon in Windhoek en werk as administrateur by die Namibiese Paralimpiese Komitee. Sy maak vanjaar die OCC vir die eerste keer mee, hoewel sy George reeds voorheen besoek het – en dus bekend is met die beeldskone dorp.

Sy is verantwoordelik vir vyf manlike atlete wat in verskeie kategorieë gaan deelneem. “Ons hoop om in die toekoms ook vroulike para-atlete in te sluit. Ons beplan om op 11 Maart die pad te vat, maar wag nog vir vervoerborge,” sê sy.

Wilson Nyakoko, tegniese raadgewer vir Wheelchair and Hand-cycle Racers of Zimbabwe, sê sy span werk nog aan hul begroting. “Elke atleet benodig R5,500 vir reis, verblyf en kos, asook herstelwerk aan rolstoele en handfietse.”

Indien hul geldsake uitwerk, sal ses mans en vyf vroue van Span Zimbabwe deelneem, insluitend Elford Moyo, 58; Munyaradzi Katiyo, 51; Thandiwe Ndlovu, 52; Morleen William Ali, 21; Stellah Jongwe, 22; Ratidzo Tomu, 52; Samson Muroyiwa, 37; Margret Bangajena, 48; Moleen Majoni, 46; Previous Wiri, 38; en Godknows Dziripi, 29.

Wilson sê die hele span, behalwe Godknows Dziripi, het reeds vantevore aan die OCC deelgeneem en weet dus wat om te verwag. Hulle vertrek uit Harare op 11 Maart en arriveer in George op die 13de.

Van Botswana af sal 55-jarige Thuso Rasetapa die lang busrit van Gaborone alleen aanpak. Hy arriveer op Vrydag 14 Maart en vertrek weer Sondag die 16de. Hy neem deel aan die halfmarathon en het al een keer vantevore die geleentheid bygewoon.

Wedren-direkteur Alewijn Dippenaar sê die 5km-pretren is vanjaar gratis vir plaaslike deelnemers. “Die professionele wedrenne oor 10km, 21.1km en 42.2km lok wêreldklas-atlete. Hierdie kombinasie van pret- en pro-deelnemers maak ons George-wedren ‘n onmisbare geleentheid vir Suid-Afrikaanse para-atlete.”

Caption: Louis Moffat from Botswana

OCC 2025 word aangebied deur die Disabled Road Race Foundation en ondersteun deur Master Cargo, Lancewood, Safari, Garden Route District Municipality, George Herald, AlgoaFM en iX.

Besoek www.outeniquachairchallenge.co.za vir verdere besonderhede. Vir bydraes, kontak Alewijn Dippenaar by 082 457 5675 of dyndev@mweb.co.za.