Waboomskraal Thusong-dienssentrum bring gesondheid en ondersteuning nader aan die gemeenskap
Hierbo is ‘n foto van die rolspelers by die welstandsdag in Waboomskraal.
Die Waboomskraal Thusong-dienssentrum het onlangs ’n suksesvolle Gemeenskapswelstandsdag aangebied, waartydens inwoners toegang gekry het tot belangrike inligting, ondersteuning en dienste wat op hul gesondheid en welstand fokus.
Verrigtinge het by die dienssentrum in Waboomskraal plaasgevind.
Verskeie diensverskaffers en belanghebbendes byeengebring, wat inwoners die geleentheid gebied het om direk met organisasies te skakel, vrae te vra en meer uit te vind oor die dienste en ondersteuning wat in die gemeenskap beskikbaar is.
Die rolspelers is deur Adam (Attie) Lewie van die Waboomskraal Thusong-dienssentrum by die geleentheid verwelkom. Hy het die doel van die dag aan die gemeenskap verduidelik en die verskillende belanghebbendes aan inwoners bekendgestel.
Een van die belangrike temas van die dag was die bevordering van ’n gesonde leefstyl en die belangrikheid om na ’n mens se fisiese, emosionele en sosiale welstand om te sien.
Zelda Barnard van Stop Trafficking het met die kinders gesels oor die ernstige kwessie van kinderhandel. As deel van haar boodskap aan die kinders het sy vir hulle klein poppies uitgedeel om hulle daaraan te herinner dat hulle spesiaal is en geliefd is.
Adjudant-offisier Wendy Lee van die Herold polisie het ook aan die dag deelgeneem en bygedra tot die bewusmaking rondom kinderhandel en die beskerming van kinders.
Die dag het inwoners die geleentheid gebied om in ’n vriendelike en ondersteunende omgewing met diensverskaffers te skakel en meer te leer oor hulpbronne en programme wat tot hul beskikking is.
Die deelname van verskeie organisasies het ook beklemtoon hoe belangrik samewerking tussen die gemeenskap, diensverskaffers en ander rolspelers is om dienste en ondersteuning nader aan inwoners te bring.
Die volgende rolspelers het aan die Gemeenskapswelstandsdag deelgeneem: People Against Substance Abuse, FAMSA, Options Care Centre, Herold SAPD, Waboomskraal E-Centre, TB & HIV Care, Bethesha, Waboomskraal Primêre Skool, HIV en Vigs kantoor, Gemeenskapsontwikkeling, George Munisipaliteit en Stop Trafficking.
Lewie het al die rolspelers namens die George Munisipaliteit bedank vir hul bydra wat tot die sukses van die dag bygedra het.
Die sentrum sal voortgaan om saam met rolspelers te werk om dienste, inligting en geleenthede nader aan die mense van Waboomskraal te bring, het hy gesê.
Fotos:




Attie Lewie spreek die gemeenskap toe by die welstandsdag in Waboomskraal.

Van die rolspelers by die welstandsdag in Waboomskraal.

Adj-Off. Wendy Lee van Herold Polisie praat met die kinders en grootmense oor mensehandel en die gevare waarvoor om uit te kyk.

Zelda Barnard van Stop Trafficking het tasbare materiale soos plakkate, prente en poppies gebruik om veral die jongspan oor mensehandel in te lig.

Van die leerders met die poppies wat Zelda Barnard in haar aanbieding gebruik het.

Van die leerders met die poppies wat Zelda Barnard in haar aanbieding gebruik het.